Hier by vers 12 sal ek aansluit by die ’83 vertaling wat die woord “blydskap” koppel aan vers 12 eerder as vers 11: “Julle moet die Vader met blydskap dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig”. Of kom ons bly liewer by die bewoording van die ou vertaling en ons sit net die blydskap daarby in: “En die Vader met blydskap mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig”. Nie ‘n groot verskil nie, maar ek hou nie daarvan dat die nuwe vertaling wil hê dat ons moet wag vir die erfdeel in die lig nie. Ons het dit nou alreeds. Ja ek wag ook vir die dag wanneer ek dit in volle heerlikheid sal aanskou en beter verstaan, maar in die gees is ek nou reeds daarin. Waarom anders word die verlede tyd so pertinent hier gebruik: “bekwaam gemaak het”. Dit is ‘n feit en ‘n totaal afgehandelde saak. God het jou bekwaam gemaak vir daardie groot erfdeel in die lig. Die lig begin nie eers by die hiernamaals nie. Ons het nou reeds oorgegaan uit die duisternis in die lig.

Paulus se gebed begin eers met dank in vers 3 en gaan daarna oor in die voorbidding of gebedsversoeke wat hy voor die Here bring. Dit begin by vers 9. Die dank hier in vers 12 is nie sy dank nie, dit is deel van sy bede. Hy bid dat die Christene van Kolosse die Vader voortduurend met blydskap sal dank. Miskien is dit nogal iets om aan te dink: Onthou, daar is iemand wat bid dat jy altyd in jou gebede die Here met blydskap sal dank!

Wie is dit wat ons bekwaam gemaak het om die ewigheid saam met God in die lig deur te bring? Waar is daardie teologie wat sê dat dit halfpad die werk van Christus aan die kruis is en halfpad my werk van bekering wat my gered het? So ‘n teologie pas eenvoudig nie hier by vers 12 in nie. Ook nie by vers 13 en 14 wat volg nie. Verlossing is van die Here, alles net van Hom en Hy moet daarvoor volkome al die dank ontvang. Onbekwame en onwaardige mense wat in sonde en selfsug gebore is, is deur God waardig gemaak om die domein van volkomenheid vir ewig te bewoon!

Hierdie vers maak geen apél of stel geen voorwaarde op iets wat ons moet doen om daardie erfenis deelagtig te word nie. Al wat hier gevra word is dat ons sal dankie sê – oorvloedig, voortduurend en met blydskap dankie sal sê vir dit wat ons gekry het. Tog weet ek en jy diep in ons hart as ons hierdie vers lees, wat die praktiese implikasies daarvan vir ons is. Hoe lyk so ‘n mens wat nie homself op die skouer klop vir sy geestelike prestasie nie, maar wat baie goed weet, dit is genade, suiwer onverdiende genade. Traakmynieagtigheid is meer ‘n eienskap van selfgesentreerde mense. Begenadigde mense is dankbare mense sê hierdie vers, en dankbare mense vertrap nie die gawe wat aan hulle toebedeel is nie.

‘n Groot deel van hierdie dankbaarheid gaan oor die voorreg om in die lig te kan wees saam met Jesus Christus. Hoe kan mens God aan die een kant loof dat Hy jou in die lig geplaas het en aan die ander kant willens en wetens voortgaan met werke van die duisternis? Leer ook van Spreuke 4:18: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans wat al helderder word tot die volle dag toe”.




 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|