"Dat hulle in die hart aangemoedig mag wees, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God: Christus"

In hierdie vers gee die apostel drie baie belangrike redes waarom hy so vasbeslote en onwrikbaar gestry het vir die gelowiges soos in vers een aangedui. Sy eerste rede is dat die gelowiges aangemoedig kan wees. Die ou vertaling sê vertroos, maar ons dink eerder aan troos in die geval van treurende mense. Hier gaan dit om onsekerheid, twyfel en vrees wat uit die weg geruim word en vervang word met visie en 'n ideaal wat nagejaag word.

Die woord wat hier vir "aangemoedig" gebruik word is paraklêthosin. Julle weet van die Heilige Gees wat as paraklêtos of aanmoediger na ons gestuur is. Hierdie is nie net emosionele aanmoediging of opsweping nie. Dit is aanmoediging in die hart. In Bybelse taal is die hart nie emosie of gevoel nie. Ander organe staan eerder vir emosie terwyl die hart die balans hou tussen die verstand en die emosie. Die hart is in die Bybel werklik die beheersisteem van jou lewe. Dit is hier waar jy met gesonde oordeel van sowel verstand, gevoel en emosie 'n doelgerigte wilsbesluit neem.

'n Mens wat vrees of twyfel is een wat sy eie hart nie kan vertrou nie. Maar God sy dank: Ons harte is nie alleen gelaat om op hulle eie te funksioneer nie. Daar is Iemand wat geroep is om langs die hart van 'n gelowige te kom staan. Dit is die werk van Jesus Christus deur sy Heilige Gees in ons bedeling. Hiervoor is ook kennis nodig. Mens kan in hierdie sin nie hierdie werk van die Heilige Gees verstaan, waardeer en benut as jy nie die kennis van die werking van die evangelie vir ons tyd het nie. Dit weet Paulus goed. Daarom is hy in so 'n stryd gewikkel. Hy wil sien dat gelowiges sterk aangespoor en doelgerig sal wees, maar daarvoor het hulle die kennis en geloof nodig.

Die moderne vertalings sê nie meer vertroos hier by vers 2 nie, maar aangemoedig en dit is goed, maar ongelukkig sê hulle net "aangemoedig" en praat gladnie meer van die hart nie. Soos ons dit hier verduidelik het dink ek dit is goed om steeds kennis te neem hoe die Bybel gedink het oor die hart.

Nou kom ons by die tweede rede waarom Paulus so hard stry vir die kennis van die verborgenheid (die nuwe evangelie vir die bedeling van genade). Kom ek maak so vinnig 'n vrye vertaling van hierdie deel van die vers: "Sodat diegene wat reeds saamgebind is in die liefde, mag kom tot alle rykdom in die volle versekerdheid van insig". Ken julle die liefdespredikers van hierdie wêreld? Wel, ek wil nie sleg praat van hulle nie, want Paulus was baie beslis ook 'n liefdesprediker. Kyk maar na 1 Kor. 13. Nadat die spreek in tale en ander wonderwerkende gawes opgehou het, bly daar nou net die heel grootste gawes oor: Geloof Hoop en Liefdie, en die grootste hiervan is die liefde. So, ek gaan beslis nie probeer om die liefde as minder belangrik af te speel nie. Allermins.

Tog moet ons nou baie baie mooi na die middelgedeelte van hierdie vers gaan kyk. Die liefde is die mees uitnemende gawe van God. Dit is hoe ons gered is (Joh. 3:16). Dit is hoe ons verander is (2 Kor. 5:14). Dit is hoe ons ingeskakel het en lief geword het vir die medegelowiges in Jesus Christus (Kol. 2:2). Dit is ook hoe ons opgegroei het in die volle kennis van sekerheid (Kol. 2:2).

Tog is dit moontlik vir 'n prediker om heeltemal verkeerd te preek oor die liefde. Dit is waarom ek effe negatief verwys het na die liefdespredikers van hierdie wêreld. Daar is 'n massa liefdespredikers vandag wat dink dat die liefde op sigself die einddoel van alles is. Maar eintlik is die liefde daar om dinge in ons te laat gebeur (soos verwys na 2 Kor. 5:14). So is dit ook in hierdie vers van ons. Die liefde is 'n onmisbare en kosbare gawe van God, maar as die liefde net bestaan uit mooi glimlaggies, samekomste, hulpbetoon en geen kennis nie, dan het Paulus tevergeefs so hard gestry.

Dit is waarom ek hierbo gesê het dat Paulus in hierdie verse drie redes aangee waarom hy so hard stry vir die kennis van die verborgenheid. Die drie redes is: 1. Aansporing 2. rykdom en sekerheid 3. Om die verborgenheid te leer ken. Intussen staan daar ook saamgebind in liefde. Wat moet ons nou sê? Is saamgebind in liefde ook 'n rede? Is daar dus vier redes? Nee, ek dink nie so nie. Letterlik volgens die Griekse taal staan daar dat dit die mense is wat reeds saamgebind is in die liefde wat die rykdom van volle sekerheid moet bereik. Die saambinding in liefde was dus nie vir Paulus die einddoel (soos vir baie liefdespredikers) nie. Die saambinding in liefde is eerder die karretjie wat ons by die werklike einddoel moet uitbring.

Wat beteken liefde vir jou? Het die liefde van Christus jou ook al aangespoor om soveel as moontlik te weet, te verstaan en die rykdomme van die evangelie ten volle te kan benut en so tot die volle sekerheid te kom? Daar kan geen sekerheid wees sonder kennis nie. As ek partykeer na ons eie mense kyk, dan word ek baie bekommerd. Ons het ook 'n stryd en 'n eiddoel wat ons najaag, maar somtyds verpas ons die karretjie wat ons daar moet uitbring. Genade-gelowiges hap en byt partykeer na mekaar of hulle gaan sit in verskillende hoekies en vermy mekaar en gaan dan aan om hulle te verbly in die rykdom van volle sekerheid. As ons dit doen is ons soos inbrekers. Dan is ons soos daardie diewe by Johannes 10 wat nie by die hek van die skaapkraal ingegaan het nie. Hoe is dit op aarde moontlik om nie in liefde saamgebind te wees nie en tog die volle rykdom van sekerheid te ervaar?

Nou rede nommer drie. Dit is eintlik die logiese en mees voor-die-hand-liggende rede. Waarom stry Paulus vir die verborgenheid? Want hy wil hê dat mense die verborgenheid moet ken. So eenvoudig as dit. Hier is ons grootste probleem van alles. Die oorgrote deel van die predikers van vandag ken self nie eers die verborgenheid nie, hoe gaan hulle dit dan nog vir die mense leer?

Hier word van die verborgenheid gepraat as "die verborgenheid van God: Christus". Die groot heilswaarhede van Jesus Christus wat ons vandag ken, was in die Ou Testament en tydens Jesus se aardse bediening verborge in God, maar nou is dit geopenbaar in Jesus Christus onder die bediening van die apostel (1 Kor. 3:10,11). Vandag is dit nie meer in God verborge nie, dit is geopenbaar deur Paulus en die inhoud daarvan is die evangelie aan almal sonder onderskeid en die volle rykdom van Christus. Vandag is dit deel van ons alledaagse en normale Christenskap. Dit is nie vir ons 'n opsionele interessantheid van die Bybel nie. Dit is van wesenlike belang.

Dit is waarvoor Paulus onverskrokke gestry het tot die einde. Vir ons is dit die aansporing, rykdom, sekerheid en volle kennis wat God vir ons bedoel het!



 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|