"In wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is"

Hier is dit nou: Daardie groot skat waarna jy nog altyd op soek was. Jesus het in die bergrede alreeds gesê dat ons nie skatte moet bymekaarmaak op aarde nie, maar eerder in die hemel. Hy het ook gesê dat dit moeiliker vir 'n ryk man is om in die hemel te kom as vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom. Wat beteken dit? Geen ryk mense gaan hemel toe nie. Miskien darem nie so kras nie, maar ten minste dat geen ryk man as "ryk man" hemel toe sal gaan nie. Daardie rykdom is van die aarde en niks van die aarde gaan hemel toe nie.

Die vorige vers het afgesluit met die stelling dat die verborgenheid van God nou geken moet word, dit is: Jesus Christus. Dit wat God deur al die eeue in Homself beplan het en voorgeneem het om te doen vir al die nasies van die wêreld, is nou, in hierdie bedeling, in Jesus Christus geopenbaar! Die vorige vers sluit af met "die verborgenheid van God" en dan direk daarna net die een woord: Christus. Toe hulle die ou Bybel vertaal het, kon die vertalers nie mooi verstaan wat God Christus beteken nie, toe sê hulle maar God, die Vader van Christus, maar "die Vader van" staan nie in die Bybel nie. God Christus beteken eenvoudig dat God nou in Christus openbaar is. Wat ons in Christus gesien het en nou van Hom leer, is alles wat God is. Jesus Christus is God!

Hierdie soort sinskonstruksie het ons ook hierbo gesien by vers 25-26 "Om die Woord van God te vervul die verborgenheid" In ons bedeling is die verborgenheid die Woord van God. Sonder die kennis van die besondere geheimenis wat nou in Christus deur die bediening van Paulus openbaar is, sit ons met 'n halwe Bybel.

Dit is tog presies wat Kol. 2:3 ook vir ons wil sê. Al die skatte van wysheid en kennis is nou in Christus opgesluit. Salomo het reeds gesê die beginsel van wysheid is die vrees en kennis van God (Spr. 9:10). Maar wat Salomo nie gesê het nie, is dat die heel grootste rykdom van kennis eers in Christus openbaar sou word. Jesaja het iets daarvan geweet toe hy profeteer het die Gees van wysheid en verstand en van raad en sterkte en van die vrees van die Here op die beloofde Christus sou rus (Jes. 11:2). Salomo se wysheid was wonderlik en dit was op die regte plek gerig. Dit was gesentreer om die Here, Jahwe, soos hulle Hom genoem het. Maar Salomo se wysheid het nie die skatte van Jesus Christus ingesluit wat ons hier in Kol. 1:15-23 van kennis geneem het nie.

Ek dink daar is ook ander verskille wat ons raaksien in die wysheid van Salomo en die skatte van wysheid en kennis in Jesus Christus. Gaan Salomo se wysheid nie meestal oor morele en etiese beginsels wat ons by God moet leer nie? Maar die skatte van God se wysheid wat in Christus opgesluit is gaan oor 'n totaal ander soort etiek. In hierdie tyd is dit die Christelike leerstelling van die kruis, van die inwoning van Christus deur sy Gees, Jesus as ons voorspraak by die Vader, ons totale wassing en reiniging wat deur Christus bewerk is, ens. wat vir ons die heel grootste skatte van wysheid en kennis inhou. Eers as ons hierdie skatte leer ken en deel gemaak het van ons mondering, dan laat ons toe dat hierdie kennis en innerlike werking van God se Gees ons vernuwe om ons denke en doen en late totaal te verander.

Alles is in Christus opgesluit. Niks in ons nie. Christene moet Christus gesentreerd dink, en bestaan. Dit gaan nie oor wat jy kan en moet doen om 'n beter Christen te word nie, dit gaan oor die skatte wat in Christus opgesluit is. Dink aan Hom. Leer meer van Hom. Wees totaal deel van Hom. Laat Hy jou lewe beheers. Laat sy plan met die liggaam van Christus, God se organisme vir die bedeling van Genade, gestalte vind in jou lewe. Sò sal die wonder plaasvind dat 'n wankelbare menslike liggaam omvorm sal word en geskik gemaak sal word vir diens binne die liggaam van Christus. Laat al jou strewes op aarde ondergeskik wees aan die volle benutting van God se skatte in Christus Jesus.

Met hierdie groot hoogtepunt kom ons nou eers aan die end van hoofstuk een. Die ware geloofsinhoud is nou op kragtige wyse in hierdie eerste deel van Kolossense behandel. Dit gee vir ons die toerusting en mondering wat ons nodig het om aanvalle van die bose te kan afslaan. Hier dink ons veral an valse leringe en bedrog wat voortdurend poog om die hart van die Christelike geloof geweld aan te doen. Kolossense se boodskap is dat jy ook moet betrokke raak in die stryd om die waarheid van die evangelie en die Woord te verdedig. Maak eers seker dat jy al die boustene van die waarheid ken, soos nou weer in Kol. 1 opgesom. Gaan dan voort na hoofstuk 2 om as apologeet die evangelie te verdedig.




 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|