"Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is"

Vers 24 gaan oor “die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus” en oor “die liggaam van Christus.” Voeg nou hierdie twee gedagtes saam en wat kry ons? Wel, Christus se aardse bediening het nie alles afgehandel wat gedoen moes word nie. Daar het nog ‘n groot stuk werk oorgebly. Watter werk is dit dan? Natuurlik, die oprigting van die liggaam van Christus! En net soos die werk wat Jesus wel op aarde gedoen het met lyding en verdrukking gepaard gegaan het, so sou die oprigting van die kerk as die liggaam van Christus ook met verdrukking gepaard gaan. Die oprigting van die kerk as die liggaam van Christus was dus ‘n noodsaaklike voortsetting van die werk van Christus wat deur ander mense namens Hom gedoen is. Die werk wat Paulus gedoen het, is iets wat oorgebly het van die werk van Christus. Dit is iets wat nie deur Jesus self tydens sy aardse bediening gedoen is nie.

Moet nou nie dink dat dit beteken dat Jesus se werk op aarde onvolledig was nie. Dit wat Hy spesifiek kom doen het, is volledig afgehandel. Hy het selfs aan die kruis gesê: Tetelestai, dit is volbring; dit is ten volle afgehandel; dit is ten volle betaal. Paulus kom dus nie Jesus se lyding aan die kruis verder afhandel nie. Dit is onmoontlik. Net God kon dit doen en Hy het dit volledig afgehandel. Maar die kerk onder al die nasies is nog nie gestig nie.

Die kerk as die liggaam van Christus is nie deur Jesus tydens sy aardse bediening geloods nie. Al die wonderlike verhale van Jesus waarvan ons in die vier Evangelies lees, speel af binne ‘n ander konteks. Dit is nie die bediening van die kerk onder al die nasies van die wêreld wat daar beskryf word nie. Die kerk was toe nog ‘n verborgenheid wat nog nie bekendgemaak is nie (1:26). Jesus se bediening op aarde gaan oor Israel, hulle beloftes van ‘n koninkryk, hulle bekering en oor Jesus se volkome offer aan die kruis.

As ons hierdie hoogs belangrike waarheid gesnap het, kan ons teruggaan na die eerste woorde van ons vers en sommer ook verstaan waarom Paulus hom verbly in sy lyding vir die gemeente. Mense wonder so dikwels waarom Paulus kan sê hy verbly hom in sy lyding. Mens kan tog nie bly wees daaroor dat jy ly nie? Nee, en hy sê dit ook nie. Hy sê dat hy hom verbly IN sy lyding. Terwyl hy ly en verdruk word, verbly hy hom. Hy is nie bly omdat hy verdruk word nie; hy is bly oor dit wat hy gedoen het en nog steeds doen wat tot gevolg gehad het dat hy moes ly. Dit was vir Paulus ‘n massiewe eer, voorreg en verblyding om die onafgehandelde deel van Christus se werk te kon afhandel. Die feit dat hierdie werk vir hom lyding en verdrukking tot gevolg gehad het, was op die oomblik nie vir hom ‘n saak van blydskap nie, maar hy kyk verder as die lyding en verdrukking (2 Kor. 4:16-18 ). Hy dink aan die liggaam van Christus. Dit is die wonderbare groot nuwe verassing van Christus wat Hy self nie eers tot stand gebring het nie, maar aan Paulus oorgelaat het (1:25).

Nog ‘n baie belangrike rede waarom verdrukking en lyding Paulus nie kon onderkry nie, was omdat hy dit verwag het. Toe hy op die pad na Damaskus gered is en sy roeping ontvang het, is daar vir hom gesê: “Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand. 9:16). Hierdie selfde boodskap en verwagting het Paulus dan aan die gelowiges oorgedra: “Omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Fil. 1:29). Met hierdie boodskap gaan Paulus voort tot aan die einde: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”

Eintlik is daar maar min van ons wat al die voorreg gehad het om vir Christus te ly. Goed, in meer algemene sin kan alle lyding in die geloof gesien word as lyding vir Christus. Enige vorm van lyding moet in die geloof aanvaar word en aan Christus oorgegee word met die oog op die grote dag van God se verlossing by die wegraping wanneer alle vorme van lyding verby sal wees. Maar in spesifieke sin is daar min van ons wat werklik al ter wille van Christus gely het. Sê vandag se jong Christene nog nee vir partytjies waar eintlik net die wêreld en die Satan gedien word? Ouers moet kinders ook nie met geweld van sulke plekke weghou nie. Gee hulle die regte Christus-opvoeding en bid dan dat hulle self nee sal sê en as gevolg daarvan dan vereensaam en onpopulêr word. Dit is ‘n vorm van lyding vir Christus, veral as jy ook jou redes gegee het waarom jy nie daar sal wees nie.

In die kleine is ek en jy ook geroep om namens Christus verder te ly. As Christen verteenwoordig jy die liggaam van Christus op aarde. En wat doen die liggaam van Christus op aarde? Beide die fisiese liggaam van Christus en ook die liggaam wat die gemeente is? Christus se liggaam ly op aarde. Hy kan nie anders nie. Hierdie is nie sy plek nie. Hy hoort in die hemel. Net om hier op aarde te wees, is al klaar ‘n groot stuk lyding vir die liggaam, want hy is ontuis hier. Hy verlang na die hemel. Maar voordat jy hemel toe kan gaan, is daar nog êrens ‘n deel van die lyding van Christus wat nie afgehandel is nie en waarop presies net jou naam geskryf is. Gaan jy ook baie bly wees as jy die dag met ‘n skok besef dat die lyding wat jy deurgaan in werklikheid Jesus Christus se lyding is wat jy vir Hom hier op aarde afhandel? Wat ‘n eer en ‘n voorreg is dit nie? Paulus het presies geweet op watter lyding vir Christus sy naam, Paulus se naam, geskryf staan. Weet jy dit ook? Sal dit ook blydskap vir jou tot gevolg hê? Wees altyd vasberade en doelgerig om jou roeping te vervul, ongeag die teenstand.



 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|