"aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid"

Kol. 1:27 verdien nog ‘n paar opmerkings. Ons het nou gesien dat die verborgenheid in Paulus se tyd aan die heiliges geopenbaar is. Dit gaan oor die uitstel van Israel se koninkryksverwagtinge, die uitfasering van hulle eksklusiewe nasionale voorrang as verbondsvolk, die uitfasering van die wet en die openbaring van Jesus Christus se versoeningsboodskap aan alle mense sonder onderskeid.

Maar let op, vers 27 wil baie seker maar dat ons die geestelike diepte van die verborgenheid sal verstaan. Toe God die verborgenheid bekend gemaak het, sê ons vers, wou Hy ook hê dat elke mens die wonderbare heerlikheid daarvan sou verstaan.

Die eerste wonder is dat dit nou onder al die nasies bekend word. Maak nie saak wie jy is, waar jy woon, wie jou voorouers is nie. Die wonderlike aanbod van die evangelie is toe oopgegooi vir almal. Dit is die eerste en die grootste wonder wat Paulus saam met die verborgenheid aankondig.

Ons kan nogal begrip hê vir die ongelooflike verrassing wat dit vir die heidene moes wees. Ef. 2:12 beskryf die hopelose uitgestote toestand waarin die nie-Joodse nasies hulle tot net voor Paulus se tyd bevind het. Hulle was “sonder Christus”, vervreemd van die burgerskap van Israel en afgesny van die verbonde van Israel. Dink nou maar net aan die vrou van Mark. 7:24-30 en die hoofman van Luk. 7:2-9. Hierdie mense was in die tyd voor Paulus buite Israel en het baie verlang om te deel in seëninge wat Jesus vir Israel gebring het, maar vir hulle was dit moeilik. Jesus het nie vir hulle gekom nie en hulle moes deur bemiddeling van Jode deel in ‘n klein deeltjie van Jesus se seën.

Wel, ek kan my net indink watter groot vreugde hierdie verborgenheid onder al die nasies vir dié twee mense moes inhou. Dink ook net aan ander heidene wat net van die Romeinse en Griekse gode geweet het. Hierdie gode het geen voordeel vir hulle ingehou nie en hulle was dikwels uitgelewer aan die besetting van bose geeste in hulle. Die aanbod van Christus wat nou in hulle kom woon moes gewis vir daardie eerste bekeerlinge uit die nie-Joodse nasiesies ‘n ongelooflike heerlike en bevrydende ervaring gewees het.

En vir ons vandag? Het ons dalk al te gewoond geword aan die stem van die evangelie? Is dit vir ons werklik ook nog so 'n bevrydende heerlike waarheid?

Ek het nogal ‘n idee dat die verwysing na “die heidene” in hierdie vers ook die Jood kan insluit. Goed, ek weet, die heidene in die Bybel (Gentiles) was spesifiek die nie-Joodse nasies. Maar is ek nou verkeerd as ek sê dat ‘n Jood wat by Paulus se gemeente in Korinthe of Efese of waar ookal gaan aansluit het, eintlik opgehou het om ‘n Jood te wees. Hy kon beslis nie “as Jood” daar aansluit nie. Jode het daar geen spesiale voorregte meer gehad nie. Dus: Die Christen-Jood word nou net soos ‘n heiden. As ons vers dus sê “die rykdom van die heerlikheid onder die heidene, dan sluit daardie heidene vir my ook Christen-Jode in. Hulle het almal saam, sonder onderskeid gedeel in die rykdom van die heerlkiheid van hierdie verborgenheid.

Die tweede groot wonder van hierdie verborgenheid was dat Chrisus nou in die Christene kom woon het. In die bedeling van die wet het die Heilige Gees nooit permanent in die gelowiges gewoon nie. Hy het net vir ‘n tyd oor hulle vaardig geword vir ‘n sekere taak en dan weer gegaan. Selfs Moses se gesig het geblink en dan het Hy weer sy gesig verberg wanneer die Gees van hom onttrek het. Maar nou kom Christus (of die Heilige Gees) in die mense woon. Om die Heilige Gees in mens te hê is dieselfde as om Christus in jou te hê. Die Heilige Gees kom verteenwoordig Chrisus in ons. Die ou vertaling sê “onder julle”, maar hier verkies ons die lesing van die nuwe vertaling: “in julle”. Die woord “onder” is meer ‘n verbondsterm.

In die verbond (wat net in die tyd van Israel bestaan het) kon jy sê dat God onder die volk was, m.a.w. tussen die volk. Die volk het aan die Here behoort, die Here was onder hulle. So kon jy ook van ‘n verbondsgesin sê dat die Here in ‘n sekere huis was. Maar vandag gaan dit nie meer help om ‘n bordjie in die voorhuis op te hang wat sê dat die Here die hoof van die huis is nie. Dit gaan ook nie help om deur enige seremonie te dink dat hulle nou almal deel van die verbond is en dat die hele huis aan die Here behoort nie. Nee, In ons tyd is die Here nie onder ‘n volk of ‘n huis nie. Hy is binne in mense of Hy is nie. In dieselfde huis kan daar diegene wees in wie Jesus woon deur sy Gees en in andere nie. Die verbond gaan hier niks help nie. Al wat kan help is om by die kruis uit te kom en Jesus as Here en Verlosser van jou lewe aan te neem. Die tyd toe verbonde en seremonies ‘n funksie gehad het, is lankal verby.

Jesus het in Joh. 14:17,23 belowe dat die Heilige Gees sou kom om in ons te woon. Hierdie selfde inwoning word ook beskryf in Rom. 8:9,10. In Efesiers word die inwonende Christus en inwonende Heilige Gees ook met mekaar gekoppel. Jesus Christus woon deur die geloof in ons harte (Ef. 3:16,17). Die sentrale waarheid van die heerlike verborgenheid (die nuwe bedeling) is dat Jesus Christus in ons woon. As Jesus Hom in jou tuisgemaak het, as Hy hier woon, nie soos in die ou Testament om te kom en weer te gaan nie, dan is jy permanent ‘n getransformeerde mens. Die Heerlikheid van God is binne in jou. Hy verander jou daagliks tot sy eer en welbehae.

Die derde feit oor die verborgenheid: Hy is ook vir jou die Hoop op die heerlikheid. Watter hoop het ek op die wegraping? Watter aanspraak het ek dat ek deel sal wees van die hoogs bevoorregte en uitgesoekte skare by die wegraping? Is dit my goeie lewe wat ek lei wat die hoop en verwagting in my aan die gang hou? Ek is jammer vir die mense wat dit so verstaan. Wat my betref het God uit groot onmeetbare genade die verborgenheid aan die lig gebring. Dit sluit in dat ‘n onverdiende heiden soos ek deur die geloof alleen permanet deur Jesus Christus bewoon kan word (bewoon beteken per definisie permanent). Nou is my enigste hoop op die heerlikheid wat voorlê juis die feit dat Jesus uit genade in my woon.




 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|