"aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid"

God wou hierdie verborgenheid bekendmaak! Die woord vir wou is etheleisa. God wou dit bekendmaak en Hy het ook. Weereens sien ons dat hier sprake is 'n van nuwe waarheid wat in Paulus se bediening vir die eerste keer aan die lig gebring is. Vers 25 sê Paulus het 'n dienaar geword en hierdie vers sê dit is God wat hierdie waarheid wou bekendmaak. Tog lees mense nog steeds die Evangelies asof die nuwe waarheid wat eers hier deur Paulus se bediening bekendgemaak is, reeds daar van Matt.1:1 af veronderstel kan word. Ons kan tog nie net "veronderstel" dat sekere dinge reeds bekend is as die Bybel duidelik, soos hier ook, aandui dat dit nie die geval was nie.

En dan gaan die vers voort om ten minste drie aspekte van die evangeie van ons tyd aan te wys wat nie voorheen geken is nie en suiwer "nou" onder Paulus se bediening vir die eerste keer bekend gemaak is. (1) Die verlossingboodskap sonder onderskeid aan alle nasies. (2) Jesus Christus kom woon in ons. (3) Hy self is vir ons die Hoop op die Heerlikheid.

Ja, God wou hierdie waarheid bekendmaak, maar nie sommer enige tyd nie. Daar was 'n tyd daarvoor bepaal. 1 Tim. 2:6 sê dit is die getuienis op die regte tyd. Die velossing in Christus Jesus is reeds aan die kruis bewerkstellig, maar is dit ook daar bekend gemaak? Het die dissipels dit die volgende dag uitbasuin dat almal nou gered kan word deur die soenverdienste van Christus? Nee. Het hulle dit dalk op Pinksterdag gesê? Nee, ook nie. 1 Tim. 2:6 is dus reg. Jesus het Homself gegee as losprys vir almal, maar die getuienis daarvan het eers gekom "op die regte tyd". Hierdie regte tyd val baie beslis saam met Kol. 1:27. God het bepaal dat hierdie wonderbare waarheid oor die heerlikheid van "Jesus Christus binne in ons" deur die bediening van een apostel bekendgemaak sou word, nie die bediening van twaalf nie.

Ons het gesê God wou is etheleisa in Grieks. Presies dieselfde woord kom voor in Matt. 23:37. Jesus wou Israel bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens, maar hulle wou nie. Kan ons dus sê dat dit wat God in Kolossense wou doen, dit het Hy gedoen, niemand kon Hom keer nie. Maar dit wat Hy in Matt. 23:37 wou doen, is inderdaad verhinder deur Israel. Hulle wou nie. Om hierdie sake van mekaar te onderskei moet ons so 'n bietjie agtergrondskennis hê van die verbonde met Israel. Die enigste verbonde wat God ooit gehad het was in elk geval met Israel. God het nooit enige verbond gehad met die heidennasies nie. Dit is net die stelsel van verbondsteologie wat so dink.

God het deur Moses by Sinaï 'n voorwaardelike verbond met Israel opgestel. As hulle die voorwaardes van die wet nagekom het, dan sou die hele land vir veilige bewoning tot hulle beskikking gewees het. Maar as hulle nie die wet nagekom het nie, dan sou die vloek hulle tref en dan moes hulle hulle eers bekeer en die verbond herstel sodat die Here God hulle genadig kon wees om die verbondsbeloftes aan hulle te laat toekom (Ex 19). Wel, Israel het tydens Jesus se aardse bediening nog steeds onder die bepalinge van die Mosaïese voorwaardelike verbond geleef. Hulle moes die bepalinge nakom om die seëninge uit die hand van God te kon ontvang. Het hulle dit tydens Jesus se aardse bediening gedoen? Nee hulle het nie! Hy wou hulle bymekaarmaak, maar hulle wou nie, daarom is hulle huis vir hulle woes gelaat. Dit is ook die rede waarom die voorwaarde so prominent in die Griekse teks van daardie vier sluiteltekste in Mattheus voorkom (Matt. 10:23, Matt. 16:27,28, Matt. 23:39 en Matt. 24:34 - in die meeste vertalings sien mens nie die voorwaarde so duidelik nie, maar in Grieks is dit in die optatiewe vorm: die sou gebeur as ...). Jesus wou daar in hulle leeftyd die koninkryk aan hulle gee soos dit nog altyd deur die profete voorsien is, maar daar was 'n duidelike voorwaarde. Die Griekse teks in Mattheus verwys daarna en die verbond van Moses waaronder die mense in daardie tyd opereer het, sê dit ondubbelsinnig.

Met hierdie inligting uit Mattheus het ek so 'n bietjie afgewyk van ons vers in Kol. 1:27, maar ek reken stellig dat dit ons instaat sal stel om die nuwe waarheid wat hier in Kolossense aangekondig word, beter te verstaan. God wou in Matt. 23:37 iets doen en ook in Kol. 1:27. Die een in Mattheus het nou na 2000 jaar nog nie gebeur nie, want Israel het nie die voorwaarde van die voorwaardelike Mosaïese verbond nagekom nie. In die geval van Kol. 1:27 is dit wat God wou doen presies op die regte tyd onder die bediening van Paulus bekendgemaak en as 'n voldonge en afgehandelde groot heerlike werklikheid aan ons oorgegee. Is die heidene dan beter as die Israeliete? Het die heidene dan die voorwaardes nagekom? Nee, maar ons as heidene staan nie onder die verbond van Moses nie. Moses se voorwaardelike verbond is net met Israel aangegaan en geen niemand anders nie.

Dit is waarom Paulus in hierdie verse so geweldig baie klem lê op die verborgenheid, die groot nuwe waarheid wat nou vir die eerste keer bekendgemaak is! Dit is inderdaad nuut. Dit staan onder die "nuwe verbond" (Kyk hoe Paulus in 2 Kor. 3:6 sy bediening vergelyk met die ou verbond wat op klippe geskrywe was). Vandag is daar nie 'n prestasie wat die mens moet lewer sodat God iets vir die mens kan doen nie. Alles wat Hy wou doen dit het Hy ook gedoen en dit ten volle aangekondig en vir almal aangebied. Al wat ons nou te doen staan is om dit te glo en in ons lewe op te neem en God daarvoor vir ewiglik te dank.

Dit is 'n fout om te dink dat Mattheus dieselfde evangelie verkondig as Paulus - 'n baie groot fout. Jesus praat in Mattheus met Israel en roep hulle nog eens op tot bekering, maar hulle wou nie. Hy hou dit toe, ten spyte van hulle weiering, in vier besliste verse aan hulle voor dat hulle nog in hulle leeftyd die koninkryk SOU sien (as hulle die voorwaardelike verbond sou nakom), maar ook dit het hulle nie gedoen nie. Teen Hand. 13 en Rom. 9-11 het die tyd vir Israel toe uitgeloop. Hulle het nie die voorwaarde nagekom nie. Hulle het die dag van heil waar die Messias hulle spesifiek besoek het, nie opgemerk nie (Luk. 19:44). Verse soos hierdie het 'n besondere betekenis net vir Israel en daardie hemelse besoek wat op hulle in besonder betrekking gehad het en wat op die koninkryk moes uitloop. Hulle het dit nie opgemerk nie. Hulle het dit misgeloop.

Maar vandag se lesers van Mattheus erken nie die spesifieke aard van Jesus se besoek aan Israel nie. Hulle lees Mattheus asof die groot nuwe waarheid van die evangelie onder al die nasies reeds daar geken is. Hulle lees dit asof Jesus toe die heidene kom besoek het. Hulle lees dit asof Israel se koninkryk wat aan hulle beloof is en wat hulle so angstig verwag het, eintlik nooit bestaan het nie en asof dit maar net die evangelie vir al die nasies beteken. Wel, as mens Mattheus so lees, sal jy uit die aard van die saak ook nooit kan glo wat daar in ons verse in Kolossense staan nie. Ons verse sê Paulus se boodskap is 'n nuwe openbaring. Die bediening aan die heidennasies was van Paulus se tyd af 'n nuwe beginsel. Die geestelike betekenis wat Jesus vandag vir ons het, was in Paulus se tyd 'n nuwe waarheid. Nie een van hierdie dinge kom in Mattheus voor nie.

Ons kan hierdie verse in Kol. 1:25-27 dus maar letterlik lees en glo wat daar staan. Die krag van die hemelse boodskap van Jesus Christus as opgestane en verheerlikte Verlosser kom dan baie sterker na vore. Ons weet dan ook dat die sinoptiese Evangelies Joods is in uitkyk, verwagting en prediking. Ons kan daardie boodskap nie direk vandag toepas nie. Ons kan dit wel, gelees deur die bril van die waarheid van die liggaam van Christus wat in Paulus se briewe voorkom, sekondêr in ons tyd toepas. Kolossense 1:25-27 leer dus ook vir ons 'n les oor hoe ons Mattheus moet verstaan en toepas.



 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|