Ons gaan voort om te praat oor geloof, hoop en liefde.

Gaan kyk ook hoe Petrus in 1 Petrus 1:3, 5 en 22 praat oor hoop, geloof en liefde. Hier is dit weer in ‘n ander volgorde. In Kolossense word hoop laaste genoem en hier by Petrus is dit eerste. Tog sien ons in albei gevalle dat dit so gedoen word om spesiale aandag aan die woord hoop te kan gee. Petrus se lesers was Jode wat die Christelike geloof aangeneem het, maar nog steeds die koninkryk baie gou in hulle leeftyd verwag het. Die lyding en verwerping wat hulle toe in plaas daarvan ervaar het, was vir hulle ‘n groot probleem en dit vorm uiteindelik die belangrikste tema van Petrus se briewe. Ek glo nie Petrus het self op daardie stadium die werklike rede en al die implikasies van die koninkryk wat uitgebly het, verstaan nie. Daarom verwys hy ook in sy tweede brief na Paulus (3:15,16). Sy lesers moes verder by Paulus gaan lees om die Christelike hoop werklik te kan verstaan. Hy sê dan ook dat hierdie goed swaar is om te verstaan.

Ons moet begrip hê vir Petrus en sy lesers. In ‘n sekere opsig is die Paulus-evangelie baie eenvoudig, veral as ‘n mens eintlik ‘n skoon bladsy het waarop die waarheid ingevul kan word – soos wat die heidene gehad het. Maar die Jode se bladsy was nie skoon nie. Hulle het eers na Jesus gekyk as die aardse Messias wat die koninkryk in Jerusalem kom oprig. Eers na die Jode Hom verwerp het, het God uit sy groot genade sy heel grootste plan van die eeue in werking gestel. Hy het Paulus geroep en die wysheid van God vir hierdie bedeling aan hom openbaar (soos wat Petrus dit ook erken).

En hoewel hierdie goed vir Petrus en sy lesers swaar was om te verstaan, dink ek tog Petrus plaas die klem in 1 Petrus 1 op die regte plek. Hy begin met die woord hoop. Vir beide Joodse en heidense gelowiges was dit reg aan die begin ‘n baie groot uitdaging om die begrip van Christelike hoop onder die knie te kry. Dit was nie iets wat vanself gekom het as jy ‘n Christen geword het nie. Jy moes dit aanleer.

Dit is ook hoe dit hier by ons vers in Kolossense gestel word. Die hoop was iets waarvan die Kolossense voorheen deur die woord van die waarheid van die evangelie gehoor het. Ek is nog steeds bevrees dat die Christelike hoop die een aspek van Christenskap is waaroor daar nie genoeg gepreek word nie. Mense dink te veel dat ek Jesus maar net as Verlosser moet aanneem en dat al die ander goed dan vanself sal kom. Dit werk nie so nie. Veral die Christelike hoop is iets wat beslis geleer en geglo moet word. Die hoop is een van die belangrikste leringe wat ‘n Christen onder die knie moet kry. Dit is so belangrik dat hier gesê word dat die geloof en die liefde in stand gehou en aangevuur word vanweë (of deur) die hoop.

Hierdie hoop is weggelê in die hemele. Die Jood (en ook die aardsgesinde gelowige) se hoop is op die aarde. Die Jode verwag ‘n koninkryk vanuit Jerusalem. En tog – kyk net wat sê Petrus in 1 Petrus 1:4: “Sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons.” Petrus mag miskien gesukkel het om die goed te verstaan, maar dit lyk nie vir my of hy gesukkel het om dit te glo nie! Hier is dit, net so goed as wat Paulus ooit kon droom om dit te beskryf. Ons hoop is op die hemel gerig en dit is totaal onverganklik en onverwelklik.

Goed, ek erken, miskien was dit dalk so dat Petrus op daardie stadium nog nie heeltemal die oorgang gemaak het van sy aardse vooruitsig na die hemelse nie. Dalk het Petrus, soos sommige beweer, hier net gedink dat dit die aardse Jerusalem-koninkryk was wat onverwelklik in die hemel vir hulle bewaar is. En as hy dit gedink het, was hy natuurlik ook nie verkeerd nie! Inderdaad word die Jerusalem-koninkryk nou nog in die hemel bewaar om op die regte tyd vir Israel openbaar te word.

Tog word die hemel en die onverganklikheid en die onverderflikheid hier so geweldig sterk op die voorgrond geplaas soos dit nooit in die verlede in die Ou Testament gedoen is as daar van die koms van die koninkryk gepraat is nie. Ek kan nie anders as om te sê dat die hemelse waarheid en die onverganklike hoop al op hierdie stadium ook ‘n hele lang ent pad met Petrus begin loop het nie! Kom ons vergelyk nou net hierdie woorde van onverganklikheid wat Petrus hier gebruik met een of twee verse by Paulus. Vir ons is (vir my ten minste) die onverganklikheid op die wegraping gerig. Die onverganklikheid bestaan reeds in die gees hier by ons en dit is gerig op die grootse manifestasie by die wegraping. Lees 1Kor. 15:50-53:

“Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,

in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.

Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”

Lees ook II Tim. 1:9,10:

“... wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,

Maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie ...”




 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|