Paulus het gehoor van die Kolossense se geloof, liefde en hoop soos ons in die vorige verse bespreek het. Dit het die gevolg gehad dat hy nou, soos nog nooit tevore nie, vir die Kolossense sou bid. Waarom doen Paulus dit? Moes hy nie maar liewer vir die ongelowiges gebid het nie? Ek glo hy het sekerlik vir hulle ook gebid, maar die gewig van sy gebed gaan oor die behoeftes van die gelowiges. Wanneer jy hoor dat iemand glo dan moet jy vir hom of haar bid soos nog nooit tevore nie. Onthou, die duiwel weet ook wie glo en die duiwel gaan hulle nie alleen los nie. En moet asseblief nie vergeet nie, die geheim is: moet nie ophou nie! “Ons hou nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid nie”.

Twee woorde vir bid kom hier voor: Die een word vertaal met “bid” en die ander een met “vra”. In die gebed is daar ‘n baie besondere versoek wat Paulus voor God kom lê. Hy bid vir die Kolossense se verryking in geestelike kennis.

Daar lê ‘n baie swaar verpligting op die Christene wat die genadeboodskap verstaan, om vir mekaar te bid en aan te hou bid. Geestelike wysheid is iets wat nie by elke mens gevind word nie, helaas, ook nie by elke gelowige nie. Hier by die Kolossense is dit ook duidelik. Die mense het geloof en liefde uitgeleef maar het nog kort gekom aan die volle geestelike kennis. Die Here se ideaal vir elke Christen is die mate van die volle groote van Christus. En dit is vir jou en my om mekaar in die leerskool te ondersteun en voortduurend en sonder ophou vir mekaar daartoe te bid.

As jy voortduurend vir andere bid vir geestelike wysheid en kennis, sal jy self ook opgeskerp bly om aktief in daardie mense belang te stel en na hulle geestelike welstand te verneem. Jy sal ook ‘n Epafras na hulle toe stuur indien nodig en vir hulle ‘n brief stuur om vir hulle te sê dat jy vir hulle bid om hulle behulpsaam te wees en te verneem na hulle omstandighede. Jy sal self dan ook baie meer aktief met jou eie geestelike groei besig bly. Kortom, die liggaam van Christus sal opgebou word volgens die wil van God. Is daar genoeg gereelde voorbidders in die geestelike gemeenskap? Is daar werklik?

Die volheid is ‘n baie geliefde term vir Paulus, veral in die gevangenisbriewe. Die woorde vir “volheid” of om te “vervul” kom nie minder nie as agt keer in Efesiërs voor, vier keer in Filippense en sewe keer in Kolossense. Paulus, en ook die Here Jesus, is nie tevrede met halfgebakte Christene nie. As dit die moete werd is om God te dien, dan is dit die moeite werd om dit voluit te doen. As dit die moeite werd is om die evangelie te ken, dan beteken dit in wese om dit voluit of ten volle te ken. Om te sê “vervul” was ook nie genoeg vir die skrywer nie. Hy wil hê dat jy mooi moet verstaan waaroor dit gaan en daarom sê hy ook “volle kennis” (epignosis).

Die Gnostisisme was ‘n sekte of dwaling wat in daardie tyd in die omloop was wat ook die woorde “kennis” of “wysheid” baie gebruik het. Maar net omdat daardie mense dit verkeerd gebruik het, beteken dit nie dat Paulus nou daarvan weggeskram het nie. Vir hulle was wysheid aards, vleeslik, en eksklusief vir geheime ingewydes. As jy daardie vlak van kennis bereik het wat die Gnostiek aan jou voorhou, het jy werklik iets gehad om oor te spog by ander mense. So, wat is die teengif wat Paulus teen hierdie vleeslike kennis aanbied? Die ware egte kennis van die evangelie van vandag. Hoe meer kennis jy van die waarheid het, hoe meer sal jy besef dat die nie uit jouself kom nie. Jy word vol van Jesus Christus en sy waarheid en dit kan alleen gebeur as jy self uit die pad uit kom en ver in die agtergrond gaan staan.

Let asseblief daarop dat die kennis en wysheid waarna ons streef, geestelik is, en ‘n baie duidelik omleinde lering is. As die wet van Moses die basis sou wees vir Christene se leer en lewe vandag, dan sou Paulus ons tog herhaaldelik aangespoor het om die wet in die Ou Testament te bestudeer. Nee, daar kom nêrens sulke opdragte in die briewe aan die gemeentes voor nie. In plaas daarvan word dit herhaaldelik en duidelik gestel dat die wysheid en kennis waarna Paulus hier verwys, nie in die Ou Testament openbaar is nie. Dit is nuwe waarheid wat deur die Heilige Gees, meestal deur bemiddeling van Paulus, aan die gemeentes openbaar is (Rom. 16:25-26; 1 Kor.2 :6-10; Ef. 3:2-10; Kol. 1:25-29).

Paulus se gebruik van die woord “wysheid” in die oorgrote meerderheid gevalle as verwysende na die besondere stuk waarheid en lering wat deur die Heilige Gees geopenbaar is vir die bedeling van die kerk (1 Kor. 2:10). Ons sê dus dat in Paulus se verstaan van die woord “wysheid” (wanneer hy dit gebruik vir Goddelike wysheid), dit byna eksklusief verwys na die leringe vir die liggaam van Christus vir die bedeling van vandag. En dit is ‘n wysheid wat ons nie in die Ou Testament vind nie. Dit is die wydheid waarvoor hy ernstig bid dat die Kolossense daarin ten volle ingelig sal wees. Om die volle kennis van die bediening van die genade van God te hê, is ook die teengif teen alle soorte gevaarlike dwalings in enige tyd.

Kies dan nou vandag. Jy wil net die Here ken om ‘n kaartjie te hê om hemel toe te gaan, of jy wil vervul wees met Jesus Christus se wil en sy wysheid. As jy die tweede opsie kies dan wil jy ook ten volle deelneem om vir ander te bid en hulle te ondersteun. Ek ken julle nie almal nie, maar die name wat gereeld hier gesien word, word in gebed aan die Here opgedra.




 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|