Waarom sê ons hierdie is 'n nuwe begin? Nee, ons praat nie van ‘n nuwe begin in die sin dat alles wat voor Romeine geskryf is nou skielik ongeldig geword het en dat ons Bybels nou by Romeine begin nie. Nee, nie dit nie. Daarvoor is daar te veel ewigduurende en onveranderlike waarhede van God en van die geloof in die hele Bybel opgeteken. Dit bly vir ewig van krag. Tog maak die Bybel dit ook baie duidelik dat daar verskillende bedelings is. Ons leer van geloof van Genesis tot Openbaring en daarvoor het ons amper nie bedelings nodig nie. Maar tog het die uitdrukkingswyse van daardie geloof van tyd tot tyd verander. God het van Kain en Abel gevra om op grond van die geloof ‘n offer te bring. Hy vra dit nie van ons nie. God het van Noag gevra om op grond van sy geloof ‘n ark te bou. Hy vra dit nie van ons nie. God het van Moses gevra om op grond van sy geloof ‘n tabernakel te bou en die mense te leer om op sekere tye sekere voorgeskrewe offers te bring en sekere heilige dae as feesstye aan Hom toe te wy. Nog baie ander dinge moes Moses die volk leer om as uitdrukking van die geloof te doen. Hulle moes onder andere ook die Sabbat onderhou. Maar God vra ons nie om hierdie dinge te doen en ons geloof so te demonstreer nie.

God bly dieselfde. Die geloof bly dieselfde. Gehoorsaamheid bly dieselfde. Liefde en toewyding aan die Here bly dieselfde. Geweldig baie geestelike en praktiese waarhede bly dieselfde. Maar die wyse waarop ons bewys dat ons mense van die geloof is, bly nie dieselfde nie. Goed, sekere aspekte daarvan kan ook dieselfde bly. Ek moet nog steeds my naaste liefhê soos myself. Maar die voorskrifte op grond waarvan ek in ‘n versoende verhouding met God kan bly voortleef, het drasties verander. En is hierdie laaste sin nie ‘n geweldig belangrike aspek van ons geloof nie? Is dit nie ‘n belangrike deel van ons geloofslewe om die verlossing en die versoening grondig te ken en te verstaan nie? Die sleutelwoorde is ken en verstaan. In ou Israel kon mense ook in ‘n versoende vehouding met God leef op grond van die soenverdienste van Christus, maar hulle het dit nie geweet nie. Hulle het nog nie die ware grond van ons verlossing geken en verstaan soos ons dit vandag ken en verstaan nie.

Juis omdat hulle nog nie die versoening in Christus geken het nie, moes hulle in daardie tyd van onkunde oor hierdie aspek, hulle versoende verhouding in stand hou deur hulle geloof te bewys deur rituele in die tempel na te kom. Ons het nou net weer Kol. 1:15-23 se studie afgehandel. In hierdie paar verse word Jesus Christus aan die orde gestel en in wonderbare glorie geleer soos nooit in die tyd van Israel en die wet nie en ook nie in die tyd van die vier Evangelies nie. Hoe kan ons nou nog voortgaan om onsself te probeer reinig in ritulete wassingseremonies as die volkomenheid van Christus se versoening nou so duidelik aan ons geleer word?

Die tyd van onkunde oor die ware gronde van verlossing en versoening het verby gegaan en die tyd van volle kennis (Grieks: epignosis) het aangebreek. Kol. 1:24-29 is ‘n direkte aankondiging van hierdie nuwe begin. Die verse kom, heel natuurlik, direk na die wonderbare aankondiging van die volle waarheid van Jesus Christus en van sy versoening (1:15-23). Dit behoort vir die leser baie duidelik te wees hoe die twee gedeeltes met mekaar in verband staan.

‘n Nuwe bekeerling tot die liggaam van Christus wat destyds die boek Kolossense vir die eerste keer sou lees, sou in 1:15-23 ‘n hele klomp goed raakgelees het waarvan daar in die bedeling van die wet nie ‘n woord gerep is nie. Op daardie stadium was sy Bybel nog net die Ou Tetament en die vertellinge van Jesus se aardse bediening. Nie een van daardie twee bronne het vir hom suke dinge geleer as wat hy nou hier in Kolossense van Jesus Christus geleer het nie. Hy kon dus teen die tyd wat hy by Kol. 1:23 kom ‘n hele klomp vrae in sy gemoed gehad het: Waarom het die Here Jesus dan nie self op aarde vir die mense gesê dat al die offers en rituele van die tempel gaan ophou en dat Hy, Jesus self, ‘n nuwe skepping tot stand gaan bring, ‘n geestelike liggaam en dat deur sy dood en opstanding Hy ‘n volkome versoening sou bewerkstellig. Waarom het Hy dit nie gesê nie?

Wel. Hy kon nie. Dit was toe nog die bedeling van die wet. Hy kan tog nie binne in die bedeling van die wet dinge leer wat eers in ‘n nuwe bedeling daarna sou geld nie. Israel se val is eers in Hand. 13 en Rom. 11 aangekondig. Tot voor daardie tyd het hulle nog die geleentheid gehad om te bekeer en die koninkryk in ontvangs te neem. Eers vandat Israel se val aangekondig is, is die evangelie na die heidennasies geneem.

Dit is die tipe van vrae wat daardie eerste lesers van Kolossense antwoorde op moes kry. Hier by Kol. 1:23 was dit die ideale tyd en plek om so ‘n antwoord te gee. Daarom dan die verklaring van ‘n nuwe begin wat ons aantref in Kol. 1:24-29. Kry nou eers hierdie week ‘n duidelike beeld van waaroor dit gaan in 1:24-29. Lees die verse ‘n paar keer oor. Kry ook duidelikheid oor die rede waarom hierdie verklaring kom direk na die lering van Jesus Christus as die Skepper, die Eerste en die volkome Versoener tussen God en mens. Dan begin ons volgende keer met die detail bespreking van Kol. 1:24.




 


|Kolossense| |Kolossense II| |Terug na BybelGlo.com| |Kol. 1:1-14| |Kol. 1:1| |Kol. 1:2| |Kol. 1:3| |Kol. 1:4| |Kol. 1:5| |Kol. 1:6| |Kol. 1:7,8| |Kol. 1:9| |Kol. 1:10| |Kol. 1:11| |Kol. 1:12| |Kol. 1:13| |Kol. 1:14| |Kol. 1:15-23| |Kol. 1:15| |Kol. 1:16| |Kol. 1:17| |Kol. 1:18| |Kol. 1:19| |Kol. 1:20| |Kol. 1:21| |Kol. 1:22| |Kol. 1:23| |Kol. 1:24-2:3| |Kol. 1:24| |Kol. 1:25| |Kol. 1:26| |Kol. 1:27| |Kol. 1:27(b)| |Kol. 1:28| |Kol. 1:29| |Kol. 2:1| |Kol. 2:2| |Kol. 2:3|